ONS STEL BEKEND...
PPK Herlewingsentrum Klerksdorp
  Pastoor Floors du Plessis



Hierdie gemeente bestaan reeds sedert 1959. Verskeie Pastoorspare het die gemeente met groot vrug en waardigheid gedien. Pragtige mylpale en bakens is in dié jare opgerig. Pastoor Pieter Snyman het die gemeente vir 18 jaar bedien. Ander pastore wat ook die Here se werk hier uitgebou het, was Hannes Labuschagne, Eddie van der Merwe, Chum Oosthuizen, Tienie Hendriksz, Pieter Pruis, Kallie Redelinghuys en die huidige herderspaar Floors en Esther du Plessis.
Gedurende Maart 1999 is die 40ste bestaansjaar met 'n reuse reünie gevier. Dit was 'n wonderlike belewenis! Mense het van oral af saamgetrek en kosbare herinneringe met mekaar gedeel. 'n Reeks dienste is gehou waar die vorige Pastore die Woord op 'n baie geseënde wyse bedien het.
Ons roep met groot dankbaarheid en opregte waardering uit: EBENHAÉSER! "Tot hiertoe het die Here ons gehelp!" Duisende kosbare mense het in die gemeente, onder die gesalfde prediking van die Evangelie van Jesus Christus, hulle verhouding met God reggemaak. Hier is wonderlike getuienisse van redding, genesing en veranderde lewens, soos God dit vir die mens bedoel het. Dit was en is nog steeds die gemeente se primêre doel om mense by die groot Genade en kosbare Waarheid van die Here se liefde uit te bring sodat hulle saam met die apostel Paulus kan uitroep: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword" (2 Kor. 5:17).
In 1990 is die pragtige nuwe Kerkkompleks, bestaande uit die kerkgebou, 'n groot saal en goed toegeruste kombuis en Sondagskoolklaskamers in gebruik geneem. Hierdie is 'n besliste bewys en getuienis van die grootheid, guns en voorsiening van die Here. Pastoor en suster Pruis, die kerkraad en gemeente het baie hard gewerk en die kompleks kontant opgerig. 'n Wonderlike prestasie en daarom gee ons die Here al die lof en eer. Tydens pastoor Tienie Hendriksz se dienstermyn is ook 'n gerieflike pastorie op die perseel opgerig.
Die gemeente is baie aktief in die KOSH-area. Op welsynsgebied dra ons by tot die versorging van verskeie oue- en kindertehuise. Die seniors van ons gemeente is ook met verskeie projekte besig. Ons het 'n baie meelewende Jeug- en Sondagskooldepartement wat omgee vir die jongmense en omsien na hulle behoeftes. Van tyd tot tyd doen hulle straat-uitreikings om die jeug van ons gebied met die Blye Boodskap van vrede en geluk in Jesus te bedien. Jesus is die enigste Bron van ware geluk, vrede, oorwinning en 'n oorvloedige lewe!
Gedurende die Paasnaweek hou ons 'n groot Paaskonferensie. (Vir meer inligting hieroor, lees asb. die advertensie op p. 11). Van 2 tot 7 April het honderde mense gevas en gebid vir 'n besondere teenwoordigheid, salwing en kragtige werking van die Heilige Gees op ons mense, veral ons jongmense. Dít is die antwoord op die noodkreet en behoefte van ons dag.
OMDAT HY LEEF, SIEN ONS KANS VIR MÔRE
OMDAT HY LEEF, VERDWYN AL ONS VREES
OMDAT EK WEET, JA, EK WEET
HY HOU DIE TOEKOMS, IS DIE LEWE
DIE MOEITE WERD OMDAT HY LEEF!


Indeks     Index